Volgens die taalfilosofie, is ʼn natuurlike taal (of gewone taal) enige taal wat op ʼn nie-vooraf-beraamde wyse tot stand kom as gevolg van die menslike intellek se ingebore vermoë tot taal. ʼn Natuurlike taal word algemeen gebruik vir kommunikasie, en kan gepraat word, met gebare gewys word, of geskryf word. Natuurlike taal word onderskei van kunsmatige tale en formele tale soos programmeertale of die "tale" gebruik in die studie van formele logika, veral wiskundige logika.[1]
Hoewel die presiese definisie verskil onder geleerdes, kan natuurlike taal breedweg gedefinieer word in kontras tot, aan die eenkant, kunsmatige of saamgestelde tale, soos rekenaarprogrammeertale onder andere Python en internasionale hulptale onder andere Esperanto, en aan die ander kant tot ander natuurlike kommunikasiestelsels soos die waggeldans van bye.[2] Al is daar ʼn verskeidenheid natuurlike tale, besit enige kognitief normale menslike suigeling die vermoë om enige natuurlike taal aan te leer. Deur die verskillende natuurlike tale te vergelyk, hoop akademici om iets wys te raak oor die wese van menslike intelligensie en die ingebore neigings en beperkings, soms universele grammatika genoem, wat natuurlike taal vorm gee.
Die term "natuurlike taal" verwys slegs na ʼn taal wat natuurlik ontwikkel het, en dus na werklike spraak, eerder as voorgeskrewe spraak. Daarom is ongestandaardiseerde spraak (soos Afrikaans-Amerikaanse Engels) natuurlik, maar standaardspraak soos Standaard Amerikaanse Engels, wat gedeeltelik voorgeskrewe is, ietwat kunsmatig.[3]